top of page
  • Instagram
  • Facebook
  • Twitter

'n Dekade is Verby

29 April 2019

Jis pappa, vandag is dit al tien jaar. Vir 'n dekade lank is jou stem en jou lag stil hier op aarde. Vir 'n dekade lank lê jou plaas se landery nog net soos jy hulle gelos het. Vir 'n dekade lank roep daai leiklip grondpad na jou, roep die klippies om weer onder jou bakkie se wiele te knetter. 

Die stukkies draad waarmee jy en Shadrak die heining reg gemaak het begin verweer. Di's asof hulle gereed is om te laat gaan, om los te skiet en vry te breek en om alles wat beskermend binne gehou was vir soveel jare te laat loop, te laat hardloop. Hulle besef hulle baas gaan nie terug kom nie en hulle is gereed om finaal afskeid te neem.

Metaal moegheid oor die laaste tien jaar is besig om my draadjies stadig maar seker swakker en swakker te maak, die ding is pappa, ek wou probeer om my heining sterk te hou vir jou, maar jy gaan nie terug kom nie gaan jy? Sien, dalk moet dit breek?  Miskien moet my heining swak raak sodat ek kan sterk word? Dalk moet hy platval sodat dié wat moet uit kan uit, en dié wat wil in kan in.

Pappa sien, ek het nie net op 19 April 2009 my pa verloor nie, maar ook my broer en my suster en 'n gedeelte van myself. Ek het daardie dag 'n deel van Werner begrawe wat 'n seun was vir 'n pa, iets wat ek nooit weer sou terug kry nie, en saam met dit die deel van my wat 'n ouer broer was. Vir 'n dekade lank was ek nooit weer een van die twee nie. Ek was weer 'n enigste kind.

Ek en my boetie en my sussie was die slagoffers in die nasleep van jou dood. Ek het vir die afgelope tien jaar gewonder oor hulle. Ek't gewonder of my boetie soos pappa lyk en of hy jou sagte temperament het. Ek't gewonder of my sussie nog so slim was soos toe ek haar laas gesien het. Ek het gehoop man, ek het gedroom en gewens dat hulle kontak met my sou maak. Meer as dit pappa, het ek gewens, nee het ek verlang dat hulle kontak met ouma sou maak. Sy't so geweldig bitterlik baie na hulle verlang die afgelope tien jaar en ek wil sê dat ek met haar kan vereenselwig maar vir my was hulle 'n boetie en 'n sussie, vir haar was hulle jóu kinders. Vir ouma was jou kinders al wat sy oorgehad het van jou, die enigste stukkie van jou waaraan sy nog kon vashou. Vir my was hulle al wat ek oorgehad van 'n lewe waarvan jy voorheen deel was. 

'n Deel van my geskiedenis is saam met jou toegegooi onder klip en sand. Die einde van jou lewe was ook die einde van 'n verhouding tussen ons; twee broers en 'n suster. Die einde van 'n verhouding tussen twee kleinkinders en 'n ouma.​

Pappa, tien jaar is 'n lang tyd om na iemand te verlang. Dit is 'n onophoudelike geknaag aan jou binneste. Dit eet aan jou soos 'n honger leeu, maar dit het tyd geword vir my om dit te stop. Nie om van pappa te vergeet nie, maar eerder om die alomteenstaande onbeantwoorde vrae te laat gaan. 

Ek sal altyd na pappa verlang en vir nog baie dekades se draaie om die son gaan my gevoelens vir pappa onveranderd bly, maar ek kan nie meer terug verlang na my lewe voordat pappa hier weg is nie. Na 'n lewe toe ek 'n boetie was nie. 

Dit het tyd geword vir my om finaal afskeid te neem en te laat gaan. Ek aanvaar nou dat ek 'n enigste kind is. Ek aanvaar nou dat ek niemand se broer is nie. Ek wou gehad het dinge moes reg kom terwille van jou, maar pappa gaan nie terug kom nie, en nou moet dinge reg terwille van my eie gesonde verstand. My heining se draadjies breek en ek gaan hom nie probeer reg maak nie. Dit het tyd geword dat hy moet platval. Dit mag dalk moeilik wees in die begin, om te laat gaan en om totsiens te sê, maar met die verloop van tyd sal die geheue van die heining vervaag in die vergetelheid onder die duisende voetspore wat in en uit beweeg.

Ek is kwaad vir pappa, ek is kwaad omdat jy so baie gedrink het. Ek is kwaad omdat jy 'n alkoholis was. Jou drinkgewoontes was die oorsaak van jou egskeiding met mamma. As gevolg van jou drink gewoontes het ek groot geword met 'n pa wat ek net elke tweede naweek gesien het. Jou behoefte aan alkohol was my behoefte aan 'n pa. Alkohol het my van die voorreg ontneem om ooit te weet of te ervaar hoe dit is om met 'n pa groot te word.

Daar was baie dinge binne pappa, lelike dinge, rou dinge waarvan pappa nooit vir een van ons vertel het nie. Dinge waarmee pappa graf toe is. Jy het vir ons gewag om jou te vra, om jou te help, maar ons het jou misluk. In die hospitaal, naby aan die einde, kon ek in jou oë sien hoe bitterlik graag jy wou praat, maar die traggie in jou keel het jou verhoed. Wou jy uiteindelik jou frustrasies uitskree? Het die realiteit by jou ingeskop dat dit dalk jou laaste kans was?

Ek onthou jou met 'n glas in jou hand. Ek onthou hoe ek in kaste, onder beddens en agter meubels weggesteekte bottels Cape to Rio gekry het. Jy't jou drank weg gesteek soos wat jy die seer binne jou weg gesteek het. Jou binneste het gehuil, jou gedagtes het gemaal en die demone in jou kop het geskreeu. Met elke sluk het jy hulle tereggewys, hulle bedwelm totdat dit oorverdowend stil geraak het. Jy't met 'n gaasigheid in jou oë na my gekyk, opsoek na liefde, opsoek na aanvaarding, maar in pleks daarvan het jy teleurstelling gesien. Jy't 'n seun gesien wat skaam gekry het vir jou. Jy't 'n seun gesien wat gewens het hy het 'n ander pa gehad. Dit moes hartveskerend gewees het om jouself te besinning in die teleurstellende oë van jou seun en vandag wil ek vir pappa jammer sê. Ek wil jammer sê dat ek jóu nie raak gesien het nie. Ek is jammer dat ek veroordeel het voor ek gevra het, voor ek eers probeer het om te verstaan watse oorloë jy besig was om te veg aan die binnekant. Ek is jammer dat my kortsigtige geloof vasgekyk het in 'n alkoholis maar die mooi siel agter die glas misgekyk het.

Vergewe my

Wat het op die grens gebeur pappa? 

Wat het jy gesien? Wat moes jy doen? 

Dit was die begin van die einde vir jou gewees.

Jy't jou eie grensoorlog geveg en jy't verloor. 

Daar was geen bondgenote om jou te ondersteun nie. 

Vaderlandsliefde bleik eensydig te wees.

Waar was hulle toe pappa moes worstel met die demone? 

Waar was hulle liefde? 

As hulle maar net so hard vir jou baklei het soos wat jy vir hulle baklei het. 

Pappa se heining was sterk gewees en dit het die meeste van jou en jou gedagtes binne gehou, maar dit het my buite gehou. Uit die onkunde van 18 jarige ek was dit onmoontlik vir my om te verstaan en het ek frustreerd geraak met pappa. Ek het geskel wanneer pappa 'n brandewyn gegooi het in plaas van om te luister, in plaas van om op te let. Ek het skaam gekry as pappa dronk opgedaag het by 'n rugby wedstryd. Ek het kwaad geword as pappa geklae het oor onderhoud betaal, maar ek het nie geluister nie. Ek wou nie luister nie. Ek het gesien maar ek het nie opgelet nie. Ek was blind. Vir jare lank wou ek gehad het pappa moes vir my jammer sê, maar vandag sê ek vir pappa jammer. Ek is so jammer dat ek pappa nie kon help nie. Ek is so jammer dat ek nie moeite gedoen het om op te let nie. Vandag wens ek, ek kon pappa help knip aan die draadjies van jou heining. Ek wens ek kon saam met pappa sit en al die lelik en seer uit huil. Ek weet vandag dat pappa siek was. Jy kon dit nie help nie. Jy het 'n familie gehad maar tog was jy alleen. Niemand was vir jou iemand nie tog was jy iemand vir baie.

Dankie vir alles wat ek by pappa kon leer in die kort tydjie wat jy hier was. Dankie dat ek vandag vir pappa kan jammer sê, dankie dat pappa verstaan, maar meeste van als dankie dat ek jou seun kon wees.

Op 19 April 2009 het jou heining uiteindelik platgeval en was jy verlos.

Die boeie het gebreek en as 'n vry man het jy die ewigheid ingestap. Ek sien hoe kyk pappa terug na my met daai skaam laggie en waai.

 

Ek het nie eers 'n foto saam met jou nie.

'n Dekade is lank, maar liefde maak tyd relatief.

Jy lewe voort Daantjie donderbos.

 

Liefde, jou seun.

Xoxo

bottom of page