

Gewoonlik kon ons vier liedjies klaar luister, op die tape wat oom Wimpie vir my ma gemaak het, voordat ons by ouma Lien se huisie gestop het. Daai dag het ons net tot in die helfte van die derde liedjie gekom. Toe CC Catch vir die eerste keer sing, “In the backseat of your Cadillac”, toe stop ons voor ouma Lien se hek. Red Square het die “hooter” gedruk en ietsie saggies gefluister en toe weer die “hooter” gedruk, maar die keer vir so bietjie langer as die eerste keer. In die straat het ek ‘n kommin egpaar gesien stap.



Maandae by Ouma Lien







Dit was die jaar 1995. Dit was ‘n jaar vol verwagting en opwinding, want “Windows 95” was geloods, en my ouma het vir my die eerste keer vertel van die eind tye wat nou baie naby was. Dit was ook die jaar toe ek vyf geword het. Ek was so bietjie oorgewig, maar verskriklik mooi en oulik. Dit was ‘n Maandag gewees, so ‘n ou vieslike Ford Cortina blou ene. Maandae het my op vyf jaar oud al laat voel soos tannie Frieda in 'n AGS kerk, verward, bang en ongemaklik wanneer die mense hulle hande begin opsteek. My ma het verslaap. Haar “pager” het alweer nie afgegaan nie. Terwyl sy besig was om reg te maak vir werk het ek Takalani Sesame gekyk, want ons het nie geld gehad vir M-Net nie. Vanuit die kamer het ek ‘n haardroër hoor val, gevolg deur ‘n diep gil wat ‘n rilling teen my rug laat afloop het, iets wat jy nog nooit in jou lewe gevoel het nie. “Ngiyeza, yeka ukumemeza!” skree ek toe terug in Zulu, want dit was wat tannie Thandi daardie dag vir die maatjies geleer het op TV.
Ons woonstelletjie het geruik soos Red Square, V05 en Revlon. My ma was baie geïrriteerd en het in kort sinnetjies met my gepraat. Sy’t ook baie vining in ons woonstelletjie rondgeloop en seker gemaak dat al die vensters toe was, en dat die stoof af was teen die muur. Sy’t so bietjie water in die ketel gegooi en ek’t gedink sy gaan ‘n “lipstick” ontdooi in warm water. Sy’t gesê dis net vir ingeval die Satan die ketel aansit en dan ons woonstelletjie afbrand. Sy moes dit nooit vir my gesê het nie, want ek was daardie heeldag bekommerd gewees oor ons nuwe gordyne wat ons by tannie Miekie gekry het, en oor my hi-fi wat gaan vlam vat. Ek’t gesien sy was daai dag nader aan die Here gewees, want haar hare het gegrens aan die pêrel poorte. Ons het toe uiteindelik in die Fiat geklim. Dit was ‘n koue oggend gewees. Ek’t al voor ons by die woonstelletjie se deure uit was geweet dat dit koud buite was, want ek’t nie vir tannie Ansa in haar tuin gesien nie. Wanneer dit koud was het die penne in haar bene gepyn so dan kon sy nie van haar bed af opkom voordat haar dogter, Mariette, haar met ‘n haardroër kom warm blaas het nie. “Krrrr kggg kggg kggg” sê die Fiat toe my ma die sleutels draai. “Ag bliksem tog, nie vandag nie!” het my ma gesê toe sy amper die sleutels in die aansitter afbreek toe sy weer probeer. "Trek die choke uit mamma!" het ek gesê terwyl ek die kougom wat ek vroeër in my hare gedruk het probeer uitkry. “Krrr kggg KLA!” en die Fiat het gevat. Red Square krap die ratte toe sy die Fiat in eerste sit, en toe styg ons op. My kop het hard terug gestamp teen die kopleuning vas en ek het my nek gebreek op drie verskillende plekke! Daar was nie dood gestop by stopstrate nie. Sy’t net so bietjie spoed verminder en dan het haar hare in vinnige bewegings links en regs geswaai en dan was ons oor die stopstraat. Ek het in my kop getel dat daar ten minste nog ses stopstrate voorlê voordat ons by ouma Lien se huis gaan stop en toe begin bid, “Dankie Jesus ek weet ek’s klein, maar Liewe Jesus U sien my pyn. Vergewe my en vat my hand as ek vandag voor U verskyn amen.”




Uiteindelik het Loeriestraat nommer 45 se deure oop gegaan, en daar staan sy, my ouma Lien. Stoffel was in ‘n toestand en het al om ouma Lien gehardloop en tjank geluidjies gemaak terwyl sy die voordeur traliehek oopsluit. Sy was altyd so geïrriteerd met hom as hy so aan’t pis gaan wanneer hy opgewonde geraak het. Vir my was ouma Lien die heel, maar heel mooiste vrou op aarde gewees. Op haar kop het haar krullers gelê soos anysbeskuit in 'n louoond. Sy’t hulle so stuif teen haar kopvel vasgerol dat dit gelyk het of sy valskerm spring. Sy was in haar blomme japon en vervalste Springbok apteek pantoffels. Ek was mal oor daai japon gewees, want daar was frilletjies om die kraag en moue en dan het vuurvliegies blykbaar klein gaatjies hier en daar in hom ingebrand. Sy het haar sigaret dood gedruk in die malva langs die deur en hek toe gestap. Ek’t gesien sy’t weer vergeet om haar tand in te sit. Ouma Lien is verskriklik veiligheidsbewus. Sy’t ‘n groot wit heining om haar huis en ek onthou nog vir Kiewiet, ons volstruis, baie goed. Nadat ‘n Hilux oor Sampie, ons boerboel, gery het, het oom Hennie vir ouma Lien ‘n volstruis gegee om ons erf veilig te hou. Kiewiet was net drie maande by ons gewees voordat oom Hennie hom moes terug vat. Hy het vir tannie Corneli geskop in ouma Lien se Namakwaland daisies in toe sy een keer oor die hek geklim het om ‘n botteltjie parfuum te kom oplaai. Ouma Lien het dit toe beter gedink om maar eerder van Kiewiet ontslae te raak en vir Stoffel te koop.
Net soos met alles in haar lewe het sy vreeslik gesukkel met die hek daardie oggend. Sy’t ‘n bos sleutels in haar hande gehad wat meer lawaai gemaak het as Brakenjan kleuterskool se slagorkes. Sy’t hierdie sleutel en sluit gewoonte by ouma Bettie aangeleer. Alles was toegesluit agter slot en grendel in daardie huis. ‘n Mens se moed sak altyd in jou skoene as ouma Lien jou vra om ‘n koppie koffie te maak, ‘n proses wat in Loeriestraat tot en met 30 minute lank kan vat. Eers, moet jy die kas oopsluit om die koffie en suiker te kry. Dan, moet jy mooi kyk in waai blik die koffie is, want ouma Lien glo in spaar, en koop sakke koffie wat sy sommer in enige ander houer ingooi. Na dit, moet jy proe aan die suiker om seker te maak dit is nie sout nie. Dan moet jy seker maak jy sluit daai kaste weer. As sy een van hulle oop vang trek haar hele gesig in die mees ongemaklikste frons in, en word daar vir jou gepreek oor hoe jy nie weet van swaarkry en sukkel nie, want jou ma bederf jou te veel. Wanneer die ketel uiteindelik klaar gekook het gooi jy die water in en dan moet jy pasop dat die albaster, wat die kalk opvang in die ketel, nie in die beker val nie.

Die tannie het ‘n tweedehandse "pram" gestoot en in dié was 'n witkop dogtertjie van vier met ‘n snot streep oor haar wang, en lelike geknipte, growwe, mat hare. Dit was tannie Hermien Pienaar en haar man en almal het geweet hulle was arm, want hulle het vyf kinders gehad en sy was verwagtend met die sesde een. Hulle was op pad poskantoor toe om haar man se staatspensioen te gaan optel. Elona Pieterse, van oorkant die straat, het oor die muur gepraat met tannie Nelie. Sy’t vir haar vir die soveelste keer gevra om asseblief die gat in haar draad reg te maak want as Boelie, tannie Nelie se hond, weer in haar erf gaan inkom gaan sy die fokken hond skiet. Verder af in die straat het ek gesien hoe oom Frik se Ford Escort alweer op die blokke staan, terwyl hy vooroor geleun het om beter te kon sien wat in die enjin aangaan. “Lettie! Kom pomp die petrol laat ek sien of die verdomde valve nog water vat!” het hy na sy vrou geroep. Tannie Lettie was ‘n groot tannie gewees met korterige grys hare en groot brille. Sy’t het haar “skirt” opgelig terwyl sy na oom Frik toe gehardloop het om hom te help. ‘n By of ‘n ding het haar gejaag want sy’t met haar ander hand so deur die lug geslaan en ek kon sien sy’t iets gesê, maar ek kon nie hoor wat nie. ”Rev hom Lettie, rev hom!” het oom Frik geskree en toe sy in daai kar klim toe pomp sy vir hom van sy blokke af. “Di’s 'n oulike straatjie die mamma” sê ek, terwyl ek met helder ogies na my ma opkyk.

Korrektiewe dienste kan ‘n ding of twee by haar leer. Uiteindelik het sy die hek oopgekry, nadat sy laag moes af buk om die onderkant op te tel van die sement af sodat dié nie sleep teen die vloer nie. Red Square gee toe vir my ‘n koebaai soen en ek klim uit die Fiat uit. Ek’t met ‘n vol gesig grimering by daai kar uitgeklim en het gelyk soos Dita Von Teese, want na daai soen was die hele Revlon fabriek oor my gesig gesmeer. Ouma Lien het toe my hand gevat, en ons tweetjies het in die hek gestaan en vir Red Square gewaai toe sy weg trek, en honderd meter verder amper oor ‘n hoer is. Hand aan hand stap ek en ouma Lien toe by haar huisie in.






“Ag Jirre, Stoffel het alweer op die mat gekak” sê sy verslaan toe sy berg Ararat op haar nuwe pienk patroontjie sitkamer mat sien. Ek maak my oë toe want toe sy sê Here het ek dog ons gaan bid. Sy gaan haal toe 'n kom louwarm water in die kombuis en gooi afgewaterde MAQ wasgoedseep daarby. “Dê, vat die en skrop! Jou ma piep vir jou heeltemal te veel op, watse groot mens gaan jy nie eendag wees nie?” het sy gesê met daai selfde frons, en so was ek toe heeltemal teen my wil forseer om Ararat op te tel en weg te gooi. Die reuk alleen was genoeg om vir Marilyn Manson en Deon Maas altwee tot bekering te kon bring.

Ek en ouma Lien het toe na haar kamer toe gestap. Ek het op die bed gespring en aan my goedkoop, rooi suigstokkie gesuig wat my ma vir my gegee het. Ouma Lien het by haar spieëlkas gesit en haar gesig vir die dag beplan. Sy’t allerhande goedjies uitgepak voor haar en toe ‘n sug gegee en stadig begin om haar krullers uit te haal. Versigtig het sy elkeen van hulle los gemaak en in die emmertjie wat langs haar staan gegooi. Ek het myself aan haar verstom en kon my oë nie van haar af hou nie. Sy’t ‘n geel kammetjie gehad waarmee sy altyd haar hare “getease” het. Sy gryp ‘n stuk hare en het dan ”getease”. Haar bewegings was baie meganies en het gelyk soos iets wat teruggekom het van uit die industriële revolusie. Op tye, as mens mooi gekyk het, kon mens so klein bietjie rook sien opstyg van uit haar kopvel. Hoe daai vrou vandag nog ‘n enkele haar op haar kop het is een van die wonders van hierdie wêreld. Die aggressie en blitsige, vinnige bewegings, gepaard met die woedende uitdrukking op haar gesig, terwyl sy haar hare vermoor, het my angstig en ongemaklik laat voel. Op tye wou ek net my ma bel en vir haar vra om my asseblief te kom haal.

Toe sy klaar “getease” was het sy die kammetjie vining neer gesit en toe steek sy ‘n sigaret op. Ek wou niks gesê het nie want ek was fokken bang, maar sy’t nogal baie gelyk soos een van die tannies wat ons een jaar in die Kaap by die hawe gesien staan het. Sy’t terug gesit in haar stoel en het diep en lank getrek aan wat sy haar “bohemian breakfast” genoem het. Sy’t die rook deur die gat waar haar tand moes wees geblaas, en skielik het die beeld van die ding van die industriële revolusie ‘n realiteit geword. Toe sy klaar was het sy die sigaret dood gedruk in ‘n leë potjie Vaseline en toe haar mond gespoel met ‘n parfuum van Avroy Shlain. Dié het sy toe uitgespoeg in ‘n klein asblikkie onder haar spieëlkas. Sy’t haar tong hard teen die binnekant van haar bolip gedruk en vir ‘n hele ruk lank net so gesit en vir haarself in die spieël gekyk. Ek’t gebid, “Dankie Jesus ek weet ek’s klein, maar Liewe Jesus U sien my pyn” en was dankbaar om nog te kon lewe na alles wat ek tot dusvêr ervaar het.




Sy haal toe ‘n bottel haarsproei uit. Op die bottel kon ek iets lees in die lyn van Dippity-Do. Sy het haar oë styf toegemaak, haar tong nog steeds onder haar bolip, en toe begin sy die sin uit die lewe uitspuit. Deur die mis het ek vir Diane Fossey gesien stap saam met drie gorillas. Sy het gespuit asof sy ‘n doelwit moes bereik en op een punt het ek haar heeltemal in die mis verloor. Ek het bang geraak en geskree, “Ouma, die osoonlaag!” “Man, fok die osoonlaag” het sy terug geskree deur die mis. Ek het toe begin huil, Dana Winner gil “Moonlight Shadow” oor die radio, Stoffel hardloop by die kamer uit en gaan kak onder die eetkamer tafel, en toe hou die gespuit op.
Ek het my oë oopgemaak en hulle het dadelik opgedroog. Al die vog was uit daai kamer uit gespuit. Toe die mis gaan lê, het ek dit gesien. Haar hare was groot, soos my ma sin. Dit was net-net hoër as die Magaliesberge. Haar tong was weer opgedruk onder haar bolip in en sy’t nog ‘n “bohemian breakfast” gehad. Die lug om haar het so bietjie vlam gevat toe sy opgesteek het, maar met ‘n vinnige wuif van haar hand en ‘n paniekbevange gil het sy die oomblik gered. Sy’t terug gaan sit in haar stoel en haar aan haarself bewonder terwyl sy die sigaret as in die Vaseline potjie af tik. Sy het ‘n lelike hoes gegee en die sigaret net halfpad klaar gerook voordat sy hom dood gedruk het. Sy’t vorentoe geleun om nader aan die spieël te kon kom en het die agterkant van haar hand saggies teen haar wang af gestreel en toe die vel onder haar ken so bietjie stywer getrek. Sy knik toe haar kop liggies vir haarself en vir my het sy glad nie meer gelyk soos die tannie op Kaapstad hawe nie, maar soos Olivia Newton-John.






Dit was toe dat sy haar bottel “aqueous cream” vat en begin smeer en vryf. Tot en met vandag toe het ek nog nie ‘n mens ontmoet wat ‘n gesig kan bewerk soos my ouma Lien nie. Tong onder bolip smeer sy vir haar in ‘n hele nuwe ouderdomsgroep in. Daar was ‘n geklap, ‘n geprik en getrek en ‘n gekners en ‘n geween van tande. Ek het eerder stil gebly en maar niks gesê nie, want op vyf jaar oud het ek reeds waarde aan my lewe geheg. Sy’t ‘n geheim gehad, en niemand het geweet nie. Dié was nie net enige “aqueous cream” nie. Nadat sy en ‘n agent ‘n lelike uitval gehad het oor ‘n R2 prysverhoging op Avon se “youth restoring day cream” het sy besluit om sake in haar eie hande te neem. Sy en haar niggie, tannie Una, het koppe bymekaar gesit en ‘n mengsel aan mekaar geslaan wat al die dooie farao’s van Egipte weer aan die lewe sou bring.

Hulle mengsel het produkkies bevat soos vitamien E olie, retinol, “brake fluid”, “vanilla essence”, gebed en “antifreeze”. As dit in die regte hande beland het dan sou ouma Lien vandag langs al die groot name in velsorg gestaan het. Kan jy dink? Lien Lauder of Lien of Olay of MaybeLien of iets in daai lyn. Na amper 30 jaar se voortdurende gebruik, het daai vrou se plooie verdwyn soos ‘n staatsbeampte gedurende teetyd. Sy het, en lyk nog steeds, ten minste 20 jaar jonger as haar werklike ouderdom. Oom Eugene het van ‘n jonger vrou gehou en hy was haar kêrel. Sy wou dit nooit aan ons erken nie, maar ons het almal geweet hulle kys. Hy het haar elke Vrydag kom oplaai om te gaan dans en dan het ek vreeslik gehuil, want ek was bekommerd oor haar, en dan het sy vir my gesê net moffies huil so terwyl sy giggelend in sy arms na sy kar toe stap. Sy het nooit vir hom gesê dat sy eintlik 51 was nie. Tot en met sy dood het hy gedink sy was 35 en dit was alles te danke aan “Maybe she’s born with it, maybe it’s MaybeLien”.
Sy was uiteindelik klaar room gesmeer en toe was dit tyd vir wenkbroue teken. In die 70’s het sy vir hulle almal uitgepluk om ‘n modeneiging te volg en net soos daai modeneiging het haar wenkbroue ook nooit weer terug gekom nie. Sy kon die mees asemrowendste wenkbroue teken wat jy nog ooit gesien het. Elke dag in ‘n ander styl. My persoonlike gunsteling was die hoepel brou. Dit was wanneer sy twee groot halfmane bokant haar oë geteken het. Die spasie tussen haar oë en die mane was dan ingekleur met of ‘n blou of ‘n groen “eyeshadow”. Sy’t my eenkeer “Exotic Birds and Paradise” toe gevat en ons was verby ‘n pou en toe’t daai voël die uitdaging aanvaar en sy stert gelig die hemele in. Ons was deur daai hele plek en moes loop koes vir die pou, want hy wou vir haar nie los nie. Hulle het vir ons gevra om asseblief te gaan, want die bohaai het die ander mense wat daar was gesteur en die pou en ouma Lien het die ander diere verbouereerd gemaak.

Toe sy klaar was met die wenkbroue het sy die “eyeshadow” weggepak en wou nog ‘n sigaret opsteek, maar toe haar hand halfpad na die pakkie toe is het sy teen dit besluit en toe weer haar gesig bestudeer. Sy’t haar kop liggies gedraai na links en dan na regs. Sy het haar wysvingers gevat en die vel bokant haar wenkbroue stywer getrek. Met haar linker hand het sy die vel onder haar ken so bietjie stuiwer getrek en toe saggies “fok” gefluister. Toe het sy haar tand ingesit en geglimlag. Sy draai toe om in haar stoel en vra nogal in ‘n ongeskikte toon vir my om uit haar kamer uit te gaan want sy wou aantrek. Ek het gesien dat sy die bloes en die paar skoene wat ek gewoonlik aangetrek het, as sy nie by die huis was nie, gaan aantrek so ek het natuurlik gedink dat sy goeie smaak gehad het. Ek het vir Stoffel gevat en met my goedkoop suigstokkie was ek by die kamer uit.

Ek het gewag in die eetkamer, my oë was ferm gerig op haar deur. Ek het gehoor hoe ‘n kas se deur hard toe slaan, ‘n glas het geval, “fok” het sy gesê en toe begin Laura Branigan Gloria sing en ek hoor hoe die radio harder gesit word. Met baie passie en in gebroke Engels het ek haar gehoor sing, “You don’t need to answer, leave them hanging on the line oh oh oh, calling Gloria!” Soos wat die liedjie toe klaar maak het die deur oopgegaan en ‘n bol rook het my visie vertroebel. Sy moes alweer ‘n Turkish delight gehad het, nog ‘n naam wat sy aan haar rookgewoontes toegeskryf het. Haar silhoeët het stadig maar seker sigbaar geword. Ek het hard gesluk, maar het vas gestaan in my posisie. Toe die rook gaan lê het ek haar uiteindelik gesien. Sy was nie meer ‘n mens nie, maar iets wat deur die gode gestuur was. Sy’t absoluut fantasties gelyk. Die donkergroen kraag nek bloes wat sy aangehad het, het beter aan haar gelyk as wat dit ooit aan my gelyk het. Haar “shoulder pads” het vyf sentimeter aan weerskante van haar uitgetoring. Saam met my bloes het sy ‘n swart besem stert rok gedra wat net onder haar knieë gekom het, en aan haar voete was swart blok hakke met ekstra vulling.
Die Magaliesberge het geheimsinnig bo haar kop uit getoring, ‘n mens wou hulle net klim. Die “shoulder pads” het haar laat lyk soos Pythagoras. “So wat dink jy suiker tieties?” het sy vir my gesê en ‘n draai gemaak. Ek het geen woorde gehad nie. Hoe het ek nog nooit daai “skirt” in haar kas gesien nie? Dit was toe dat sy begin vorentoe stap het. My oë het groot oopgerek toe sy nader aan die deurkosyn gekom het. Alles het in stadige aksies gebeur. Sy het vergeet om te buk en die berge het toe daai kosyn getref en vir hom sement en al uit die muur uitgeruk. In die agtergrond het ek gehoor hoe Celine Dion sing asof dit haar laaste keer op ‘n verhoog was. Stoffel het weer op die mat gepis, “Jou bliksem!” het ouma Lien geskreeu. Ek was vreeslik benoud en ongemaklik en wou my ma bel, maar toe was alles ewe skielik stil. Die laaste baksteen het uit die kosyn uitgeval en dit was toe dat ek sien die Magaliesberge lê onaangeraak op haar kop. Sy het nog steeds soos ‘n rolprent gelyk, soos “Baby” van “Dirty Dancing” of iets wat gestuur was van uit die hemele daar bo.

Sy het toe haar kar sleutels gegryp en vir my ‘n vervalle peperment gegee wat sy onder in haar handsak gekry het. Sy gee toe vir my ‘n soen op die voorkop en sê vir my om ‘n soet seuntjie te wees. Ek het saam met ouma Bettie by die huis gebly en het haar gehelp om vetkoek te bak later daardie middag. Ouma Lien is toe by die huis uit en ek’t gehoor hoe sy haar kar aansluit en ry. ‘n Paar sekondes later het ek ‘n ligte slag gehoor en ek’t geweet sy was weer oor die fokken sypaadjie. Sy het daardie dag definitief elke kop in Klerksdorp laat draai. Ek was terug na haar kamer toe en het op die bed gespring. “Dankie Jesus ek weet ek’s klein, maar Liewe Jesus U sien my pyn. Vergewe my en vat my hand as ek vandag voor U verskyn Takalani Sesami and Sanlam” het ek gebid. Later daai middag was sy terug by die huis en het vir my gevra om haar te help om die inkopies, van uit die kar, kombuis toe te dra. Ek het gesien sy het nog ‘n bottel “old brown sherry” gekoop asook ‘n string goedkoop suigstokkies vir my, daardie plat rooies was my gunsteling gewees. Sy het toe vir ons ‘n eiertjie gebak vir middagete met snytjies tamatie en komkommer. Ek het nog nooit in my hele lewe iets anders as dit vir middagete in haar huis geëet nie. Ek dink sy was deur die groot depressie en wou my nederig en dankbaar hou en daarom het sy my nooit bederf met ‘n sjokolade toebroodjie of ‘n wegneem ete nie. Na middagete het ons boer-boer gaan speel met my klein karretjies en plaas diertjies. Sy’t ‘n sak mielies by my gekoop en gevra of my krip ook lek, en ek het haar so gekyk en so by myself gedink, “as daai pou jou darem maar nou kon sien….”

